The Affiliate Program has been temporarily paused as we make changes to create a fair and sustainable program for the Paxful community. Learn more here.

Affiliaatprogram se diensbepalings

Ingangsdatum: 21 Oktober 2019

Dankie dat jy as lid van die Paxful-affiliaatprogram geregistreer het. Die inligting wat jy aan Paxful voorsien het as deel van die registrasieproses sal deur Paxful gestoor en hanteer word in ooreenstemming met die Europese Unie se algemene databeskermingregulasie (“GDPR”). Jy het Paxful se privaatheidbeleid, wat aan GDPR-standaarde voldoen, aanvaar as deel van die affiliaatregistrasieproses.

Deurdat jy die Paxful-webwerf aanhou gebruik (as affiliaat of andersins), word dit geag dat jy tot die privaatheidbeleid instem en dit aanvaar, insluitend soos dit van tyd tot tyd hierna aangepas of aangevul of andersins gewysig word. Die huidige weergawe van ons privaatheidbeleid kan op die tuisblad van hierdie webwerf bereik word of deur op hierdie skakel te klik: https://paxful.com/privacy. Let op: sekere rekeninginligting kan moontlik met jou affiliate gedeel word as deel van jou deelname aan die affiliaatprogram. Dit sluit in ligginginligting en rekeningaktiwiteit.

Die volgende is die bepalings en voorwaardes wat vir die affiliaatprogram geld. Paxful behou die reg (volgens ons eie en absolute goeddunke en sonder vooraf kennisgewing) om: (a) enige van of al hierdie bepalings en voorwaardes te enige tyd en van tyd tot tyd te verander, waaronder onder andere om die persentasies van kommissie-uitbetaling wat hier onder beskryf is, te verander, (b) die affiliaatprogram op te hef of te kanselleer, en/of (c) jou affiliaat- en Paxful-rekening op te skort of permanent te deaktiveer as jy op sekere maniere optree soos hier onder beskryf.

As affiliaat het jy die geleentheid om derde partye aan die Paxful-Bitcoin-mark voor te stel en kommissie te verdien op grond van BTC-verhandelings wat hulle op ons platform doen. Paxful betaal alle affiliaatkommissie alleenlik in BTC.

Die affiliaatprogram is as ’n tweevlakprogram wat so gestruktureer is dat dit slegs geld vir derdepartygebruikers wat dit vir die eerste maal gebruik:

  • Vlak 1-verwyser
    ’n vlak 1-verwyser is ’n derde party wat registreer om die Paxful-Bitcoin-mark te gebruik met die unieke registrasieskakel wat Paxful aan jou voorsien het toe jy vir die affiliaatprogram geregistreer het.
  • Vlak 2-verwyser
    ’n vlak 2-verwyser is ’n derde party wat registreer om die Paxful-Bitcoin-mark te gebruik met die unieke registrasieskakel wat Paxful aan ’n vlak 1-verwyser van jou voorsien het.

Kommissie betaalbaar.

Tensy andersins ooreengekom met Paxful, sal jy kommissie van Paxful verdien elke keer wat jou vlak 1- of vlak 2-verwyser ’n BTC-“koop”-transaksie met Paxful voltooi.

Soos jy weet, hef Paxful ’n fondsbewaringfooi op elke verhandeling wat op die platform voltooi word. Die fondsbewaringfooi kan te enige tyd en van tyd tot tyd deur Paxful verander word. Jy kan ’n verduideliking van die fondsbewaringfooi en die huidige bedrag daarvan kry deur op hierdie skakel te klik: https://paxful.com/support/en-us/articles/360013609793-Paxful-fees

  • Wanneer ’n vlak 1-verwyser ’n BTC-“koop”-transaksie suksesvol op Paxful voltooi, sal Paxful jou affiliaatbeursie met ’n som (in BTC) krediteer wat gelyk is aan 50% van die fondsbewaringfooi wat op daardie tydstip geld.
  • Wanneer ’n vlak 2-verwyser ’n BTC-“koop”-transaksie suksesvol op Paxful voltooi, sal Paxful jou affiliaatbeursie met ’n som (in BTC) krediteer wat gelyk is aan 10% van die fondsbewaringfooi wat op daardie tydstip geld.
  • Indien jou vlak 1-affiliaat egter ’n BTC-“koop”-transaksie met ’n vlak 1-affiliaat van ’n ander lid van die affiliaatprogram teweegbring, sal die 50% kommissie gelykop verdeel word tussen jou en daardie ander lid.
  • Insgelyks, indien jou vlak 2-affiliaat ’n BTC-“koop”-transaksie met ’n vlak 2-affiliaat van ’n ander lid van die affiliaatprogram teweegbring, sal die 10% kommissie gelykop verdeel word tussen jou en daardie ander lid.
  • Jy sal nie enige kommissie verdien as jy van een van jou vlak 1- of vlak 2-affiliate koop of aan hulle verkoop nie.

Die kommissie wat jy in verband met enige sodanige transaksie verdien, sal gewoonlik onmiddellik na suksesvolle afloop van die transaksie na jou affiliaatbeursie gekrediteer word. Elke keer wat so ’n transaksie suksesvol voltooi is, sal Paxful vir jou ’n bevestiging-e-pos stuur. Op hierdie manier kan jy op jou Paxful-paneel kyk hoe jou affiliaatbeursie groei.

In sekere omstandighede kan jy moontlik ook kwalifiseer om ’n verwyserfooi te verdien wanneer jou vlak 1- of vlak 2-verwyser ’n BTC-“verkoop”-transaksie met Paxful voltooi. Om te bepaal of jy kwalifiseer om fooie op jou vlak 1- en vlak 2-verwysers se “verkoop”-transaksies te verdien, kontak Paxful-steundiens by [email protected]. Paxful behou die reg om volgens sy eie en absolute goeddunke te bepaal of jy toegelaat sal word om enige verwyserfooie vir “verkoop”-transaksies te verdien.

Onttrek jou kommissie.

Wanneer die saldo in jou affiliaatbeursie ten minste VSA $10 is (in BTC-waarde op daardie tydstip), sal jy die hele saldo na jou Paxful-BTC-beursie kan oordra. Sodra die saldo van jou affiliaatbeursie ’n totale leeftydwaarde van $300 bereik, sal ons vereis dat jy identiteit- en adresverifiëring indien. Sodra jy dit gedoen het, staan dit jou vry om met jou inkomste te doen wat jy wil. Deurdat jy ons voorsien van hierdie of enige ander inligting wat benodig word, bevestig jy dat al die inligting waar, akkuraat en nie misleidend is nie. Jy stem in om ons onmiddellik op hoogte te bring as enige inligting wat jy voorsien het, verander. Jy magtig ons om navrae te doen, direk of deur derde partye, wat ons noodsaaklik ag om jou identiteit te verifieer om jou en/of ons teen bedrog en ander finansiële misdade te beskerm, en om op te tree soos ons nodig ag op grond van die resultate van sodanige navrae. Wanneer ons sodanige navrae doen, erken jy en stem jy in dat jou persoonlike inligting aan kredietverwysing- en bedrogvoorkoming-agentskappe of agentskappe wat finansiële misdade ondersoek, bekendgemaak mag word en dat hierdie agentskappe volledig mag antwoord op ons navrae.

Goeie wenk: Ons stel voor dat jy jou BTC-verdienste teen ’n bykomende wins op ons platform verkoop.

Verbode gedrag

Die volgende is ’n verteenwoordigende (maar nie allesomvattende nie) lys van die soort gedrag en praktyk wat kan veroorsaak dat Paxful (soos bepaal deur Paxful se eie en absolute oordeel) om (a) die kommissie wat jy tot op daardie tydstip verdien het (of dit onttrek is of nie) te kanselleer of terugbetaling te eis en/of (b) om jou affiliaat- en Paxful-rekening(s) op te skort of permanent te deaktiveer.

  • Om gemorspos te gebruik om partye na die Paxful-platform te lok.
  • Betrokkenheid by onwettige aktiwiteite van enige aard, ongeag of dit verwant is aan jou gebruik van Paxful se platform en dienste of nie.
  • Om bykomende rekenings op die Paxful-platform te skep wat enigsins voordeel trek uit die Paxful-affiliaatprogram. Jy mag slegs een rekening hê en mag nie jou rekening of enige inligting wat vir toegang tot jou rekening nodig is aan mense of entiteite behalwe jouself verkoop, uitleen, mee deel of andersins beskikbaar maak nie. Om vals inligting vir jou rekening te skep, jou land van herkoms te vervals of bedrieglike identifiseringdokumente te voorsien, word streng verbied.
  • Enige breuk of oortreding deur jou of jou verteenwoordigers van enige van jou verpligtinge ingevolge hierdie bepalings en voorwaardes.
  • Die gebruik – in enige vorm van advertering of ander media of inligting van enige aard wat jy voortbring of versprei of andersins beheer – van die woorde “Pax” of “Paxful” of enige ander woorde, merke of benamings wat dieselfde lyk of klink, wat Paxful ag as verwarrend eenders as ons handelsmerk, PAXFUL.
  • Om (a) Paxful of enige van die direkteure, amptenare, werknemers, kontrakteurs, agente of verteenwoordigers of (b) gebruikers van die Paxful-platform, insluitend ander lede van die affiliaatprogram af te kraak, te belaster of in diskrediet te bring.
  • Betrokkenheid by enige aktiwiteite wat Paxful meen (volgens ons eie en absolute goeddunke) ons kan onderwerp aan regs-, regulatoriese of geregtelike ondersoeke volgens die wette, reëls of regulasies van enige nasie, multinasionale liggaam (insluitend die Europese Unie), of enige regsgebied of regeringsoutoriteit insluitend, maar nie beperk nie tot onwettige dobbelary, bedrog, geldwassery of terreuraktiwiteite.
  • Betrokkenheid by onwettige aktiwiteite van enige aard, ongeag of dit verwant is aan jou gebruik van Paxful se platform en dienste of nie.
  • Om vals, onakkurate of misleidende inligting te verskaf.
  • Om vals, onakkurate of misleidende identiteit- en adresverifiëring te verskaf.
  • Om enige derde party aan te moedig of te oorreed om betrokke te raak by enige van die aktiwiteite wat in hierdie afdeling verbied word.

Intellektuele eiendomsregte

Tensy anders deur ons aangedui, is alle regte op intellektuele eiendom in die webwerf en in enige inhoud wat in verband met ons dienste verskaf word, die eiendom van Paxful of ons lisensieverleners of verskaffers, en dit word deur toepaslike wette op intellektuele eiendom beskerm. Ons gee geen geïmpliseerde lisensie vir die gebruik van die inhoud van die webwerf nie. Jy mag die webwerfmateriale nie verkoop of wysig nie, en jy mag ook nie die materiale op enige wyse vir enige publieke of kommersiële doeleindes reproduseer, vertoon, publiek uitvoer, versprei of andersins gebruik nie. Jou gebruik van die materiale op enige ander webwerf of op ’n lêerdeling- of soortgelyke diens word vir enige doeleinde verbied.

Jy mag nie enige materiaal of inhoud wat die webwerf bevat of wat deur die webwerf toeganklik is sonder ons geskrewe toestemming kopieer nie. Enige regte wat nie uitdruklik hierin gegee is om die materiaal wat in die webwerf bevat is te gebruik nie, word ten volle deur Paxful voorbehou.

Beperking van aanspreeklikheid/vrywaring

Hierdie webwerf en die affiliaatprogram word op ’n “soos dit is”- en “soos beskikbaar”-grondslag vir jou inligting en gebruik aangebied, sonder enige voorstelling of onderskrywing. Tot die maksimum omvang wat die toepaslike wet toelaat, maak ons geen waarborge van enige aard nie, of dit uitdruklik of geïmpliseer is, in verband met die webwerf of die affiliaatprogram nie, waaronder onder andere geïmpliseerde waarborge van bevredigende kwaliteit, funksionaliteit, geskiktheid vir ’n bepaalde doel, nieskending, versoenbaarheid, sekuriteit, akkuraatheid, toestand of voltooidheid of enige geïmpliseerde waarborg wat spruit uit die transaksie- of gebruik- of verhandelingproses.

Indien deur die toepaslike wet toegelaat en tot die maksimum omvang daarvan, sal ons nie vir die volgende aanspreeklik wees nie:

  • 1. enige ekonomiese verliese (waaronder onder andere verlies aan inkomste, winste, kontrakte, besigheid of verwagte besparings);
  • 2. enige verlies aan welwillendheid of reputasie;
  • 3. enige spesiale of indirekte of voortvloeiende verliese, ongeag waaruit dit voortspruit.

Vrywaring en skadeloosstelling

Jy stem in om Paxful, Inc. (en elkeen van ons beamptes, direkteure, lede, werknemers, agente en affiliate) skadeloos te stel teen enige aanspraak, eis, aksie, skade, verlies, koste of uitgawe, insluitend sonder beperking, redelike regskoste, wat voortspruit uit of verband het met: jou gebruik van of gedrag in verband met ons affiliaatprogram; of jou oortreding van hierdie bepalings en voorwaardes. Daarmee saam stem jy in dat jy ten volle verantwoordelik sal wees vir (en ons ten volle te vrywaar teen) alle aansprake, aanspreeklikheid, skade, verliese, kostes en uitgawes, insluitend regskoste, wat deur ons gely word en wat voortspruit uit of verband hou met enige oortreding van die bepalings en voorwaardes deur jou of enige ander aanspreeklikhede waaraan ons blootgestel word uit jou gebruik van die dienste en die affiliaatprogram, of die gebruik daarvan deur enige ander persoon wat die dienste deur jou rekening, toestel of internettoegangrekening gebruik; of jou oortreding van enige wet of regte van enige derde party.

Algemeen

Hierdie bepalings en voorwaardes en jou gebruik van die webwerf en affiliaatprogram sal in ooreenstemming met die VSA se wette beheer en vertolk word. Enige dispuut wat voortspruit in verband met hierdie bepalings en voorwaardes of jou gebruik van die webwerf of affiliaatprogram sal eksklusief in die howe van die VSA beslis word. Niks in hierdie bepalings en voorwaardes sal geag word as dat dit jou statutêre regte onder die VSA se wette beïnvloed nie. Indien enige deel van hierdie bepalings en voorwaardes in geheel of gedeeltelik deur enige hof in die VSA as ongeldig of onafdwingbaar beskou word, sal die geldigheid of afdwingbaarheid van die ander afdelings van hierdie bepalings en voorwaardes nie beïnvloed word nie. Enige opskrifte wat hierdie bepalings en voorwaardes bevat, is slegs vir inligtingsdoeleindes en is nie afdwingbare voorskrifte van hierdie bepalings en voorwaardes nie.