Antigeldwassery-beleid

Paxful, Inc. en Paxful USA, Inc. (individueel en gesamentlik die “Maatskappy”), geïnkorporeer ingevolge die wette van die deelstaat Delaware in die VSA, bied dienste aan deur ’n internet-geaktiveerde persoon-tot-persoon-mark (“P2P”) vir die aankoop en verkoop van digitale bates.

Die maatskappy is by die VSA se Tesouriedepartement se Financial Crimes Enforcement Network (“FinCEN”) geregistreer as ’n gelddienstebesigheid. Paxful se antigeldwassery-beleid en -prosedures is ontwerp om onwettige aktiwiteite op die platform te ontmoedig, en om gebruikers, die besigheid en die digitale geldeenhede en finansiëledienste-gemeenskappe te beskerm teen uitbuiting deur misdadigers. Die maatskappy voldoen aan die vereistes van die VSA se Bankgeheimwet en verwante FinCEN-regulasies en -riglyne.

As deel van Paxful se voldoeningsbeleid is beleid en prosedures rondom identifikasieplig (“KYC”) vir individuele en institusionele kliënte ontwerp om die maatskappy te help om redelik seker te wees wat die ware identiteit van daardie kliënte is oor wie so ’n ondersoek uitgevoer is. Die beleid is van toepassing op alle gebruikers op die platform en word deur al die maatskappy se werknemers, konsultante, beamptes, eienaars en direkteure gevolg.

Paxful het ’n risikogebaseerde benadering as deel van sy identifikasieplig- en antigeldwassery-voldoening, en het die volgende maatreëls getref:

  • Aanstelling van ’n hoofvoldoeningsbeampte wat voldoende kundigheid en onafhanklikheid het, wat verantwoordelik is vir toesig oor voldoening aan toepaslike wetgewing, regulasies, reëls en bedryfsleiding;
  • Het risikogebaseerde beleide oor identifikasieplig, kliëntondersoek (CDD) en gevorderde ondersoek (EDD) opgestel en handhaaf dit;
  • Het risikogebaseerde vlakke vir die verifiëring van die maatskappy se gebruikers opgestel (raadpleeg hierdie blogplasing);
  • Stem in tot wetstoepasserversoeke en voldoen aan plaaslike reguleringsvereistes;
  • Rapporteer verdagte aktiwiteite (“SAR’s”);
  • Bied maatskappywye opleiding oor bankgeheime, antigeldwassery en die VSA se kantoor vir kontrole oor buitelandse bates (OFAC);
  • Gebruik verskeie antibedrogstelsels;
  • Deurlopende reëlgebaseerde transaksiemonitering;
  • Ondersoeke met behulp van blokkettingontleding;

Ons rapporteer verdagte aktiwiteite as ons weet van, vermoed of rede het om te vermoed dat verdagte aktiwiteite op ons platform plaasgevind het. ’n Verdagte aktiwiteit is dikwels een wat nie strook met ’n gebruiker se bekende en regmatige besigheid, persoonlike aktiwiteite of persoonlike vermoëns nie. Ons hoofvoldoeningsbeampte kontroleer en ondersoek verdagte aktiwiteite om te bepaal of voldoende inligting ingesamel is om die rapportering van verdagte aktiwiteit te regverdig. Ons hoofvoldoeningsbeampte bewaar rekords en aanvullende dokumente van alle rapporterings van verdagte aktiwiteite.

Die maatskappy het ook deurlopende beleide oor OFAC-sanksies en prosedures ingestel wat ontwerp is om te verhoed dat die platform gebruik word vir verbode transaksies, deur gesanksioneerde individue, of met die doel om VSA- en internasionale sanksies te ontduik, te vermy of te omseil.

Paxful werk ten volle saam met alle sanksielyste van OFAC, van spesiaal aangewese burgers (SDN) en van geblokkeerde persone. Raadpleeg asseblief die volgende skakel vir die maatskappy se lys van risikogebaseerde verbanne lande wat nie Paxful se platform mag gebruik nie.

In gevalle waar Paxful vir jou ’n vertaling van die Engelse weergawe van hierdie beleid voorsien, stem jy in dat die vertaling slegs vir jou gerief is en dat die Engelse weergawes van die beleid jou verhouding met Paxful bepaal. As daar enige teenstrydigheid is tussen wat die Engelse weergawe van die beleid sê en wat ’n vertaling sê, dan sal die Engelse weergawe geld.